Share
A- A A+

Article from:

Creation  Volume 22Issue 1 Cover

Creation 22(1):39–42
December 1999

The Creation Answers Book
by Various

US $14.00
View Item

Die Skepping: ‘Waar’s die bewyse?’

Wanneer jy met ‘n persoon oor die skepping praat, en hy daarop aandring dat jy ‘die Bybel uit die saak moet hou’, wil hy eintlik net die een kant van die storie hoor.

deur Ken Ham
vertaal deur Annalouise Bekker

Baie mense het oor die jare heen my probeer uitdaag met ‘n vraag soos:

‘Ek het teenoor my vriende probeer getuig. Hulle sê dat hulle nie in die Bybel glo nie en nie geïnteresseerd is in die inhoud daarvan nie. Hulle is op soek na ware bewyse vir ‘n Skepper-God voordat hulle na my aansprake oor Christenskap sal luister. Watter bewyse kan ek aan hulle gee, sonder om die Bybel aan te haal, sodat hulle na my sal begin luister?’

Hier volg my antwoord kortliks:

Bewyse

Skeppingskundiges en Evolusioniste, Christene en nie-Christene het almal dieselfde bewyse—dieselfde feite. Dink net ‘n bietjie: ons het almal dieselfde aarde, dieselfde fossiellae, dieselfde diere en plante, dieselfde sterre—die feite is almal dieselfde.

Die verskil kom in die verskillende maniere waarop ons die feite interpreteer. Waarom interpreteer ons die feite verskillend? Omdat ons met verskillende vooronderstellings/aannames begin. Dit is dinge wat ons sonder enige bewyse aanneem as waar, en wat dan die basis vir ons ander gevolgtrekkings word. Alle redenasies is gebasseer op sulke aannames (genoem aksiome). Dit word veral relevant wanneer ons met gebeurtenisse in die verlede te doen het.

Verlede en hede

Ons bestaan almal in die hede—en die feite bestaan almal in die hede. Wanneer ons probeer verstaan waar die bewyse vandaan kom (Waar kom die diere vandaan? Hoe het die fossiellae gevorm? ens.), probeer ons eintlik om die verlede met die hede te verbind.

As ons egter nie in die verlede was om hierdie gebeurtenisse waar te neem nie, hoe kan ons weet wat gebeur het en sodoende die hede verduidelik? Dit sou wonderlik wees om ‘n tydmasjien te kon hê sodat ons sekerheid kon kry oor gebeure in die verlede.

Christene beweer natuurlik dat hulle wel, tot ‘n sekere mate, ‘n ‘tydmasjien’ besit. Hulle het ‘n boek, naamlik die Bybel, wat beweer om die Woord van God (wie van ewigheid af reeds bestaan) te wees, en wat aan ons die hoof gebeurtenisse uit die verlede waarvan ons moet weet, openbaar.

Op grond van hierdie gebeurtenisse (die Skepping, Sondeval, Vloed, Babel ens.), besit ons ‘n stel aannames waarmee ons ‘n denkpatroon kan bou wat ons in staat stel om die bewyse in die hede te kan interpreteer.

Evolusioniste het ook sekere aannames oor die verlede/hede, bv. dat daar geen God is nie (of ten minste geeneen wat verantwoordelik was vir spesiale skeppingswerke nie), en daarom bou hulle ander denkpatrone waarmee hulle die bewyse in die hede interpreteer.

Wanneer Christene en nie-Christene dus oor bewyse stry, stry hulle in realiteit eerder oor hul interpretasies gebaseer op hul afsonderlike aannames.

Dit is waarom die argument soms uitloop op iets soos:

‘Kan jy nie sien waarvan praat ek nie?’

‘Nee, ek kan nie. Kan jy nie sien hoe verkeerd jy is nie?’

‘Nee, ek is nie verkeerd nie. Dit is duideluk dat ek reg is.’

‘Nee, dis glad nie duideluk nie.’ En so gaan dit aan.

Hierdie twee mense argumenteer oor dieselfde bewyse, maar kyk na die bewyse deur verskillende brille.

Dit is nie totdat hierdie twee mense besef dat hulle argument eintlik gaan oor die vooronderstellings waarmee hulle begin het, dat hulle sal kan aandag gee aan die fundamentele redes vir hulle verskillende oortuigings nie. ‘n Persoon sal nie die bewyse anders interpreteer totdat hy deur ‘n ander se bril daarna kan kyk nie—wat beteken, hy sal bereid moet wees om sy beginaannames te verander.

Ek het gevind dat ‘n Christen wat hierdie dinge verstaan, deur ‘n evolusionêre bril na die bewyse kan kyk (sonder om te aanvaar dat hulle vooronderstellinge waar is) en kan verstaan hoe evolusioniste na die bewyse kyk. Daarenteen kan ‘n nie-Christen, om verskeie redes, wat geestelike redes insluit, nie deur ‘n Christelike bril kyk nie-behalwe as hulle die vooronderstellingsnatuur van die stryd besef en gevolglik begin om hul eie aannames te bevraagteken.

Dit is natuurlik soms moontlik om, deur slegs ‘bewyse’ te lewer, ‘n persoon te oortuig dat ‘n sekere wetenskaplike argument vir die skepping sin maak ‘op die basis van die feite’. Maar gewoonlik, wanneer daardie persoon dan ‘n ander interpretasie van dieselfde feite hoor wat beter lyk as jou interpretasie, sal hy weer wegbeweeg van jou argument omdat hy dink dat hy ‘beter feite’ bekom het.

As jy egter die persoon gehelp het om die beginsel van vooronderstellings te verstaan, sal hy meer bevoeg wees om hierdie saak te sien vir wat dit is—verskillende interpretasies gebaseer op verskillende beginaannames.

As onderwyser het ek gevind dat wanneer ek, wat ek geglo het die ‘feite’ oor die skepping, aan die studente geleer het, hulle ander onderwyser bloot hierdie feite herinterpreteer het. Die studente sou dan na my toe terugkom en sê, ‘Wel Meneer, jy moet maar weer probeer.’

Toe ek egter begin het om my studente te leer hoe om die feite te interpreteer, en hulle gewys het hoe interpretasies gebaseer word op vooronderstellinge, was hulle in staat om die ander onderwyser se basiese aannames te bevraagteken wanneer sy die feite probeer herinterpreteer het. Nou was dit nie meer die studente nie, maar die ander onderwyser wat na my toe teruggekom het! Hierdie onderwyser was baie ontsteld omdat die studente nie meer haar interpretasie van die feite wou aanvaar nie en die basis van haar redenasie bevraagteken het.

Wat besig was om te gebeur, was dat ek die studente geleer het hoe om te dink eerder as net wat om te dink. Wat ‘n verskil het dit nie aan my klas gemaak nie! Ek is in die wolke wanneer ek, soms dekades later, van sommige van daardie studente hoor hoe hulle as gevolg daarvan aktiewe, geankerde Christene geword het.

Debateer voorwaardes

Wanneer mens toestem tot ‘n bespreking sonder om die Bybel te gebruik, soos party mense aandring om te doen, het hulle die voorwaardes vir die gesprek neergelê. In essensie behels hierdie voorwaardes:

  1. ‘Feite is neutraal’ Daar is egter nie iets soos ‘neutrale feite’ nie; alle feite word geïnterpreteer. As die Bybel eers uit die argument verwyder word, is die Christen se vooronderstellings daarmee heen en kan hy nie effektief ‘n alternatiewe interpretasie van die feite lewer nie. Sy opponente het dan die oorhand omdat hul nogsteeds hul vooronderstellings het—kyk later na Naturalisme, logika en realiteit.
  2. Waarheid kan/moet bepaal word onafhanklik van God. Die Bybel verklaar egter: ‘Wysheid begin met die dien van die Here;’ (Ps 111:10) ‘Kennis begin met die dien van die Here.’(Spr 1:7a); ‘Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.’ (1 Kor 2:14)

‘n Christen kan nie die geestelike aard van die stryd skei van die stryd self nie. ‘n Nie-Christen is nie neutraal nie. Die Bybel maak dit baie duidelik: ‘Wie nie aan My kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.’(Mat 12:30); ‘En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.’(John 3:19)


Naturalisme, logika en realiteit

Daardie mense wat teen die skepping argumenteer mag dalk nie eers bewus wees van hul mees basiese aanname nie, ‘n aanname wat God a priori uitsluit, naamlik naturalisme / materialisme (alles kom vanaf materie en daar bestaan geen bonatuurlike of enige aanvanklike skeppende intelligensie nie).1 Die volgende twee voorbeelde lig ‘n paar probleme met hierdie aanname uit:

  • ‘n Jong man het my by ‘n seminaar genader en gesê: ‘Wel, ek glo nogsteeds in die Big Bang en dat ons hier is a.g.v toevallige, lukrake prosesse. Ek glo nie in God nie.’ Ek antwoord toe: ‘Wel, dan moet jou brein en jou denkprosesse klaarblyklik ook die produk van lukrake toeval wees. Daarom kan jy nie seker wees dat dit op die regte manier ontwikkel het nie, en kan jy nie eers seker wees wat ‘reg’ in daardie verband beteken nie. Jong man, jy weet nie of jy die regte stellings maak nie; jy weet nie eers of jy my die regte vrae vra nie.’

    Die jong man het na my gekyk en gesê: ‘Watter boek het jy aanbeveel?’ Hy het uiteindelik besef dat sy oortuiging sy eie fondasies ondermyn—sulke ‘redenasies’ vernietig die hele basis vir rede.
  • Tydens ‘n ander geleentheid kom ‘n man na my na die afloop van ‘n seminaar en sê: ‘Ek is eintlik ‘n ateïs. Omdat ek nie in God glo nie, glo ek ook nie in absolutes nie en erken dat ek nie eers seker kan wees van realiteit nie.’ Waarop ek antwoord: ‘Hoe kan jy dan weet dat jy rêrig hier is en hierdie stelling maak?’ ‘Goeie punt,’ sê hy. ‘Watter punt?’ vra ek. Die man het na my gekyk, geglimlag en gesê: ‘Miskien moet ek huis toe gaan.’ Toe sê ek: ‘Miskien sal dit nie daar wees nie.’ ‘Goeie punt,’ sê die man. ‘Watter punt?’ antwoord ek.

    Hierdie man het verseker die boodskap gekry. As daar geen God is nie, hoe kan mens uiteindelik filosofies praat oor realiteit? Hoe kan ‘n mens selfs rasioneel glo dat daar iets soos waarheid is, wat nog te sê besluit wat waarheid is?

Nota

  1. Hierdie aanname word selfs verdedig as ‘n ‘praktiese noodsaaklikheid’ wanneer wetenskaplike onderwerpe, oorspronge ingesluit, bespreek word deur sommige beleidende Christene wat evolusioniste is. Terug na teks.

[Redakteursnota: vir meer inligting oor formele logika en die Christen geloof, kyk na die artikel Loving God With All Your Mind: Logic and Creation.]

Deur in te stem tot sulke voorwaardes vir ‘n debat, word hul stelling dat die Bybel se beskrywing van die geskiedenis van die heelal irrelevant is tot die verstaan van daardie geskiedenis, implisiet aanvaar!

God se Woord oortuig uiteindelik

1 Pet 3:15 en ander Bybel gedeeltes maak dit duidelik dat ons elke argument moontlik moet gebruik om mense te oortuig van die waarheid en 2 Kor 10:4–5 sê ons moet verkeerdhede regstel (soos Paulus gedoen het in sy bediening aan die heidene). Ons moet nietemin nie Heb 4:12 vergeet nie: ‘Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Jes. 55:11 sê ook: ‘So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: Dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

Selfs al sou ons menslike argumente baie sterk wees, is dit uiteindelik God se Woord wat mense oortuig en oopstel vir die waarheid. Ons moet nooit dit wat ons in ons argumente gebruik skei van die Woord wat oortuig nie.

Praktiese toepassing:

Wanneer iemand vir my sê hulle wil ‘bewyse’ hê, nie die Bybel nie, antwoord ek:

‘Jy mag dalk nie in die Bybel glo nie, maar ek glo wel. Ek glo die Bybel gee my die regte basis om hierdie heelal te verstaan en om die feite rondom my reg te interpreteer. Ek sal aan jou ‘n paar voorbeelde gee van hoe my Bybel gefundeerde redenasies die wêreld verklaar en hoe dit nie in teenstelling met die wetenskap is nie. Die Bybel verklaar bv. dat God afsonderlike soorte diere en plante geskep het. Kom ek verduidelik wat gebeur as ek my denke op hierdie aanname bou. Ek sal illustreer hoe prosesse soos natuurlike seleksie, genetiese afwykings ens. verduidelik en geïnterpreteer kan word. Dan kan jy sien hoe die wetenskap van genetika sin maak as dit gebaseer word op die Bybel.’

‘n Mens kan natuurlik dieselfde doen met vele ander wetenskaplike voorbeelde, soos dat sonde en oordeel bv. verband hou met die geologiese en fossiel rekord. Ook hoe die sondeval en die gevolglike Vloek op die hele skepping skadelike mutasies, wreedheid en dood in die wêreld verklaar.

Nadat ek sommige van hierdie punte meer breedvoerig verduidelik het, vervolg ek met:

‘Kan ek jou nou vra om jou posisie te verdedig rakende hierdie sake. Wys my asseblief hoe jou redenasies, gebaseer op dit wat jy glo, sin maak van dieselfde bewyse. Jy kan ook aan my uitwys waar my wetenskap en logika verkeerd is.’

Deur op hierdie manier jou saak te stel, kan ‘n Christen:

  1. Die Bybel se vooronderstellings gebruik om ‘n patroon van denke te vorm waarmee die bewyse geïnterpreteer kan word.
  2. Bewys dat die Bybel en wetenskap hand aan hand gaan.1
  3. Die vooronderstellings van die ander persoon bevraagteken en uitdaag (baie mense is nie eers bewus dat hulle vooropgestelde aannames het nie).
  4. Die debatteerder forseer om sy posisie logies te verdedig, in ooreenstemming met wetenskap en sy eie aannames (baie mense sal vind dat hulle dit nie kan doen nie).
  5. Die Woord van God eer wat die siel oortuig.

Onthou, dit help nie om mense te probeer oortuig om in die skepping te glo sonder om hulle ook te lei om in die Skepper/Verlosser, Jesus Christus, te glo en op Hom te vertrou nie. God eer diè wie Sy Woord eer. Ons moet maniere wat aan God die eer bring gebruik om mense met die waarheid oor die lewe te bereik.

Nota

  1. Wetenskap kan eintlik net in ‘n Christen raamwerk, bestaan. Selfs sekulêre filosowe in wetenskap is dit eens: Bybelse vooronderstellings was nodig, soos bv. ‘n rieële, objektiewe heelal, geskep deur een Goddelike wetgewer wat nie wispelturig of misleidend was nie-en wie die intellek/verstand van die mens ook op so ‘n manier geskep het dat dit in beginsel in staat was om die heelal te vertsaan. [Red. Nota: Refuting Evolution, Ch. 1, bespreek hierdie in meer besonderhede.] Terug na teks.

Anthony P said “Thanks for your … website, it’s really easy to navigate and it is a massive bonus to be able to read back-issues of your magazines … without your ministry I probably wouldn’t be a Christian today. Thank you so much and keep up the good work.” So help us do just that! Support this site

Copied to clipboard
8259
Product added to cart.
Click store to checkout.
In your shopping cart

Remove All Products in Cart
Go to store and Checkout
Go to store
Total price does not include shipping costs. Prices subject to change in accordance with your country’s store.