Explore
Also Available in:

Wat ons glo

GELOOFSVERKLARING
(Lees ook “Good News”)

(A) PRIORITEITE

  1. Die wetenskaplike aspekte van die skepping is belangrik, maar ondergeskik aan die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus as Heerser, Skepper, Verlosser en Regter.
  2. Die leerstellings van die Skepper en die skepping kan uiteindelik nie van die evangelie van Jesus Christus geskei word nie.

(B) BASIESE BEGINSELS

  1. Die 66 boeke van die Bybel is die geskrewe Woord van God. Die hele Bybel is goddelik geïnspireer en foutloos. Die stellings daarin is in al die oorspronklike manuskripte feitelik waar. Dis die allerhoogste gesag, nie net in alle sake ten opsigte van geloof en gedrag nie, maar in alles wat dit leer. Sy gesag is nie tot geestelike, godsdienstige of verlossingstemas beperk nie, maar sluit sy stellings op terreine soos die geskiedenis en wetenskap in.
  2. Die beslissende gids tot die interprestasie van die Skrif is die Skrif self.
  3. Die verslag oor die begin wat in Genesis weergegee word, is ’n eenvoudige maar feitelike weergawe van ware gebeure en bied daarom ’n betroubare raamwerk vir wetenskaplike navorsing oor die kwessie van die oorsprong en die geskiedenis van die lewe, die mensdom, die aarde en die heelal.
  4. Die verskeie oorspronklike lewensvorme (soorte), waaronder die mensdom, is deur die regstreekse kreatiewe optrede van God gemaak. Die lewende afstammelinge van enige van die oorspronklike soorte (afgesien van die mens) kan vandag meer as een spesie verteenwoordig – wat die genetiese potensiaal in die oorspronklike soort weerspieël. Slegs beperkte biologiese veranderinge (waaronder degenerasie deur mutasies) vind sedert die skepping natuurlik binne elke soort plaas.
  5. Die groot vloed van Genesis was ’n ware historiese gebeurtenis met ’n wêreldwye omvang en uitwerking.
  6. Die spesiale skepping van Adam (die eerste man) en Eva (die eerste vrou) en hul daaropvolgende verval in sonde is die grondslag vir die noodsaaklikheid van verlossing vir die mensdom.
  7. Dood (sowel fisiek as geestelik) en bloedvergieting het die wêreld ná en as ’n regstreekse gevolg van die mens se sonde betree.

(C) TEOLOGIE

  1. Die Godheid is drie-enig: een God, drie Persone—God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.
  2. Alle mense is sondaars, oorgeërf van Adam en individueel (uit keuse), en is daarom aan God se oordeel en veroordeling onderworpe.
  3. Vryheid van die straf weens en mag van sonde is net deur die offerdood en gestorte bloed van Jesus Christus en sy volkome en liggaamlike opstanding uit die dood beskikbaar.
  4. Die Heilige Gees stel die sondaar in staat om tot bekering te kom en in Jesus Christus te glo.
  5. Die Heilige Gees woon en werk in elke gelowige om die vrugte van geregtigheid te dra.
  6. Verlossing is ’n gawe wat deur geloof alleen in Christus alleen ontvang word, en vind uitdrukking in die individu se bekering, erkenning van die dood van Christus as die volle betaling vir sonde en die aanvaarding van die opgestane Christus as Verlosser, Here en God.
  7. Alles wat vir ons verlossing nodig is, word in die Skrif uiteengesit.
  8. Jesus Christus is deur die Heilige Gees verwek en uit die maagd Maria gebore.
  9. Jesus Christus het liggaamlik uit die dood opgestaan, na die hemel opgevaar, sit tans aan die regterhand van God die Vader, en sal op dieselfde wyse as Regter van die lewendes en die dooies na die aarde terugkeer.
  10. Satan is die persoonlik geestelike vyand van sowel God as die mens.
  11. Dié wat nie in Christus glo nie, is aan ewige, bewustelike straf onderworpe, maar gelowiges geniet ewige lewe saam met God.

(D) ALGEMEEN

Die lede van die direksie (direkteure) van Creation Ministeries International beskou onderstaande as óf in ooreenstemming met die Skrif óf as deur die Skrif geïmpliseer:

  1. Die Skrif leer ’n onlangse oorsprong van die mens en die hele skepping.
  2. Die dae in Genesis stem nie met geologiese tydperke ooreen nie, maar is ses [6] opeenvolgende skeppingsdae van vier-en-twintig [24] uur.
  3. Noag se vloed was ’n beduidende geologiese gebeurtenis en baie (maar nie alle nie) fossielhoudende sediment het in dié tydperk ontstaan.
  4. Die ‘gapingsteorie’ vind geen grondslag in die Skrif nie, en ook nie die idee van dagtydperke (sogenaamde ‘progressiewe skepping’) of die raamwerkhipotese of teïstiese evolusie nie.
  5. Die siening wat algemeen gebruik word om die implikasies of die gesag van Bybelse lering te vermy dat kennis en/of waarheid tussen ‘sekulêr’ en ‘godsdientig’ verdeel kan word, word verwerp.
  6. Geen klaarblyklike, oënskynlike of beweerde getuienis op enige terrein, waaronder geskiedenis en chronologie, kan geldig wees as dit die Skriftuurlike verslag weerspreek nie. Van hoofbelang is die feit dat getuienis altyd onderworpe is aan interpretasie deur feilbare mense wat nie oor alle inligting beskik nie.