Explore
Also Available in:

Evolusionêre rassisme

deur Carl Wieland
vertaal deur Annalouise Bekker

Indigenous people of Australia

Die sondige begeerte om ander te domineer, verstoot, ignoreer of mishandel vir eie gewin, kon nog nooit verskoon word nie. Soos wat vantevore reeds aangetoon is deur evolusionêre en skeppingskundige skrywers, het Darwin dit egter ‘n geweldige hupstoot gegee. ‘n Ongewone boek wat die skakels tussen evolusionêre denke en die opvlam van rassisme in Australiese Koloniale geskiedenis help dokumenteer, heet: Aborigines in White Australia: A Documentary History of the Attitudes Affecting Official Policy and the Australian Aborigine 1697–1973.1 Die boek bestaan, buiten ‘n paar inleidende/redaksionele aanmerkings, grootliks uit substansiële uittreksels van dokumente so uiteenlopend soos parlementêre afskrifte, hofverslae, briewe aan redakteurs, antropologiese verslae, ens.

Toename in brutaliteit

In plaas van progressiewe verligting soos wat die tyd aanstap, sien ons na 1859 ‘n definitiewe ongunstige wending in amptelike houdinge, met ‘n merkbare toename in gevoelloosheid, swak behandeling en brutaliteit teenoor Aboriginies. Die boek se redakteur skryf:

‘Charles Darwin se boek On the Origin of Species het in 1859 die gedagte van biologiese (en gevolglik sosiale) evolusie gewild gemaak. Geleerdes het die beskawing beskryf as ‘n eenlynige proses waar rasse kon opskuif of afskuif teen ‘n gegradueerde skaal. Die Europieër was … die “sterkste om te oorleef” … [en die Aboriginie] was volgens ‘n “natuurlike wet” gevonnis om uit te sterf, net soos die dodo en die dinosourus.’ Hierdie teorie, ondersteun deur die voor die hand liggende feite [d.i. dat die Aboriginies besig was om uit te sterf as gevolg van mishandeling en siekte—C.W.] was meermale tot diep in die twintigste eeu aangehaal, totdat dit duidelik geword het dat die donkerkleurige ras eerder besig was om te vermeerder. Tot en met daardie tyd was dit gebruik om verwaarlosing en moord te regverdig.

In ’n afskrif van die ondervraging van ‘n polisieman gedurende ‘n Koninklike Kommissie van

Ondersoek in 1861 (p. 83), lees ons oor die gebruik van geweld teenoor die stamgebonde Aboriginies:

‘En as ons die swartes nie straf nie, sal hulle dit sien as ‘n erkenning van swakheid?’
‘Ja, dit is my presiese mening.’
‘Die vraag is wie die sterkste ras is—as ons ons onderwerp aan hulle, sal hulle ons daaroor verag?’
‘Ja … ’

Die invloed van evolusionêre denke kan ook gesien word in ‘n afskrif op bladsy 100. Die skrywer, ook outeur van ‘n 1888 boek, regverdig die uitmoor van Aboriginies in die staat Victoria. Hy skryf:

‘Oor die etiek van die vraag kan daar geen finale uitspraak gemaak word nie.’

Hy sê dit is so omdat

‘dit ‘n geval van persoonlikheid is; vir die sentimentele persoon is dit sonder twyfel ongeregtigheid; vir die praktiese persoon bied dit ‘n onmiskenbare tree in die rigting van menslike vooruitgang, wat die opoffer van ‘n paar duisend van ‘n minderwaardige ras behels. … Maar die feit bly staan dat die mensdom as ‘n ras nie kan kies om alleenlik as morele wesens op te tree nie. Hulle word deur dierlike wette beheer wat hulle blindelings voorwaarts dwing op spore wat hulle skaars vir hulleself kan kies.’

Hy regverdig met ander woorde ongeregtigheid (wat maar net ‘n ander woord vir sonde is), deur hom te beroep op die ‘dierlike wette’ van die evolusionêre stryd om oorlewing. Opposisie kan afgemaak word as ‘sentimenteel’—sonder begrip vir sulke ‘natuurlike wette’.

Op bladsy 96 sê iemand wat ook in ‘n 1880 koerant skryf:

‘Niks wat ons kan doen sal die onnaspeurlike en onveranderlike wette wat ons vooruitgang op hierdie aardbol bestuur, verander nie. Deur hierdie wette was die inheemse rasse van Australië met die koms van die blanke gedoem, en die enigste ding wat vir ons oorbly om te doen, is om te help om hulle uit te voer [d.i die “wette” van evolusie aanhelp deur die Aboriginies se lot te versnel—C.W.] met so min wreedheid as moontlik … moet ons die swartes met vrees regeer … ’

Hierdie onveranderlike ‘wette van evolusie’ was natuurlik nog altyd ‘n totale verdigsel. Die voortdurende sosiale spanning rondom Aboriginie sake, is tot ‘n groot mate ‘n nalatenskap van hierdie voormalige euwels.

Die Kerk staan terug aangaande die skepping

Vele opregte Australiese Christene en kerkinstansies het probeer om, soms ietwat neerhalend, die Aboriginies te beskerm teen die velle aanslag van die vele onmenslikhede bekragtig deur evolusionêre denke. Net soos vandag, het vele kerkleiers en instansies egter op die een of ander manier kompromieë aangegaan met hierdie nuwe Darwiniese ‘wetenskap’.

Feitlik geen Christenstem het gedoen wat nodig was nie—om onbeskaamd die ware geskiedenis van die mens te bevestig soos dit in die Bybel aangetoon word. Deur te beklemtoon dat ons almal afstam van Noag se familie, net ‘n paar duisend jaar terug, sou Darwiniese rassisme weerlê het. Dit sou die bevindinge van moderne genetika, dat ons almal biologies baie nou verwant is, kon voorspel. Dit sou ook ’n totaal ander perspektief op die status en kultuur van die Aboriginie gee—dat hulle alreeds baie stories van hulle eie aangaande die Sondvloed en Babel gehad het, sou byvoorbeeld geen verrassing gewees het nie. Wat ‘n dramaties anderse wegspringpunt vir ‘n sendinguitreik—‘n uitreik na verwante familielede, nie na minderwaardige ‘barbare’ nie!

Die valse geloofstelsel van evolusie is van sy ontstaan af gebruik om mense te verblind vir die morele absolutes van die Skrif, hetsy om Nazisme, Stalinisme, aborsie, ongeërgtheid oor hongersnood in Afrika of die mishandeling van inheemse rasse te regverdig.

God se Woord het nog altyd gestaaf dat ‘Uit een mens [d.i. Adam] het Hy al die nasies gemaak’ (Hand 17:26, 1 Cor 15:45). Die antwoord vir rassisme lê in Genesis, wat ons vertel dat alle mense nou verwant is.

Amptelike Misdade

Ons het alreeds die moorddadige handel in liggaamsdele na noordelike halfrond museums gedokumenteer1, gebaseer op Darwin se lering dat inboorlinge van Australië lewende ‘verlore skakels’ was. Vroeëre wreedhede teenoor Aboriginies (wat ook gereeld ‘geregverdig’ was deur pre-Darwiniese evolusionêre idees) het snelle vergeldings vanaf die gesaghebbendes teweeg gebring. Sulke gruwels was egter baie meer gereeld amptelik goedgekeur nadat Darwin se werk verskyn het.

‘n Brieweskrywer, woedend oor die behandeling van sy medemens, skryf in 1880 aan ‘n koerant:
‘In algemene taal is dit hoe ons die Aboriginies hanteer: Wanneer nuwe grondgebied ingeneem word, word inboorlinge op dieselfde manier hanteer as die wilde diere of die voëls wat die setlaars daar mag vind. Hulle lewens en hul besittings, hul nette, hul kanoo’s en hul wapens, wat net soveel arbeid vir hulle beteken as die vee en geboue van die blanke setlaar, word deur die Europieër gesien as totaal en al tot sy beskikking. Hulle goedere word geneem, hul kinders word gewelddadig gesteel, hul vrouens word ontvoer volgens elke gril van die blanke man. Die geringste teken van weerstand word met ‘n geweerskoot beantwoord … [hulle] wat ingenome was met hierdie vermaak, het die swartes gemoor, ontvoer en verkrag sonder om verhinder te word. Hulle was nie alleen ongekontroleerd nie, maar die Regering van die Kolonie was altyd byderhand om hulle te red van die gevolge van hulle misdade.’2

Verwysings

  1. Darwin’s Body-Snatchers, Creation 14(2):16–18, 1992. Sien ook D. Monaghan, The Body-Snatchers, The Bulletin, November 12, 1991, pp. 30–38.
  2. Die boek genoem in die hoofartikel was geredigeer deur Sharman Stone, Heinemann Educational Books, Melbourne, 1974, pg.93.

Addisionele leeswerk

Verwysings

  1. Geredigeer deur Sharman Stone, Heinemann Educational Books, Melbourne, 1974, pg.93. Return to text.

Helpful Resources