Share
A- A A+

Article from:

Creation  Volume 16Issue 4 Cover

Creation 16(4):42–45
September 1994

The Image of God DVD
by David Aikman

US $13.00
View Item

In die beeld van God geskep

deur Russell Grigg
vertaal deur P. Roberts

Jesus’ extended hand

Die historiese Bybelse verslag oor die skepping van Adam en Eva (Genesis 1:26–27) lui dat God die eerste man en vrou ‘in sy eie beeld’ gemaak het. Wat beteken dit? En hoekom is dit belangrik?

Die geleentheid was die sesde dag van die skeppingsweek nadat God die aarde as woonplek voorberei het en nadat Hy die visse, die voëls en die ander diere geskep het. Dit is alles deur die goddelike woord geskep, wat beteken dat God beveel (of gewil) het dat elke ding gebeur en dit het gebeur. Die geval van die skepping van die mens verskil. Die geïnspireerde verslag lui: ‘En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld: na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape’ (Genesis 1:26–27).

’n Goddelike raadsvergadering

Dit lyk in dié interessante vers of God met iemand praat.1 Calvyn het gesê: ‘Dis die taal van iemand wat beraadslaag… hy pleeg oorleg.’2 Baie ander kommentators verwys daarna as ‘ ’n raadsvergadering’. Maar as dít die geval is, met wie beraadslaag God? En hoekom? Gee die Bybel ons enige aanduiding?

Omdat die Here geen ander raadgewer nodig het nie,3 het enige sodanige oorlegpleging ongetwyfeld binne die Godheid plaasgevind—tussen God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees.4,5 Hebreërs 1:2 sê vir ons dat toe God die wêreld (AOV) of die heelal en alles daarin (NLV) gemaak het, Hy dit deur sy Seun gedoen het.6

God kon maklik beveel het dat die mens deur sy eie Woord geskep word, soos Hy in die geval van die diere (Genesis 1:20,24) en die plante (Genesis 1:11) gedoen het, maar Hy het besluit om dit nie te doen nie. Die mens is nie ’n nabye familielid van die diere nie, en ook nie verlangs aan primitiewe plantlewe verwant nie, en ook nie die produk van slym nie. Hy is daarenteen iemand groots, wonderlik en anders, die uitnemendste deel van al God se werke, en ’n spesiale uitdrukking van die goddelike aard—deur God se eie, persoonlike optrede geskep. God stel hom met statigheid, waardigheid en die eer van ’n intieme beraadslaging aan die kant van die Godheid voor.

Hoewel die mens uit die stof van die aarde gevorm is, het God persoonlik ‘in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword’ (Genesis 2:7). Die mens se lewe is dus nie die gevolg van die spontane herskikking van molekules binne sy liggaam nie, en het ook nie ontstaan uit die evolusie van enige dier of ‘laer mensagtige wese’ (soos teïstiese evoluniste leer) nie, maar is ’n regstreekse geskenk van God. Dit word verder in die Bybel in Lukas se geslagsregister van Adam bevestig waar hy sê dat Adam die seun nie van ’n mensaap nie, maar ‘die seun van God’ was (Lukas 3:38).

Wat was daar wat God met die Seun moes bespreek? Openbaring 13:8 sê vir ons dat die Lam van God (dit is Jesus) ‘van die grondlegging van die wêreld geslag is’. Teen die sesde dag van die skeppingsweek was die grondslag van die wêreld goed en waarlik gevestig, maar met die skepping van die mens was God op die punt om die reeks gebeure in te lui wat onverbiddelik tot die toekomstige kruisiging en dood van die Here Jesus Christus aan die kruis ter versoening van die sondes van die mensdom sou lei. In sy aardse lewe het Jesus in die Tuin van Getsemane sy bereidheid bevestig om die wil van die Vader in dié verband te doen (Matteus 26:39,42). Het Hy dit dalk ook in die hemelse raadsvergadering gedoen net voordat God Adam geskep het?

In die beeld van God

Toe God die mens in sy eie beeld geskep het,7 het Hy bedoel dat mense (sowel mans as vroue) op sekere maniere ’n ooreenkoms met God sou toon en sekere van die goddelike voorregte sou deel. In dié verband merk ons op:

1. Dit was nie ’n fisieke ooreenkoms nie, maar…

Hoewel God gees is (Johannes 4:24) en nie ’n liggaam soos ’n mens het nie, het Hy toe Hy in die Ou Testament aan mense verskyn het, dit in die vorm van ’n menslike liggaam gedoen (byvoorbeeld Genesis 18:1–2; 33:24,28,30).8 Dr. Henry Morris skryf: ‘Daar is daarom iets aan die menslike liggaam wat op unieke wyse vir God se manifestering van Homself gepas is, en Hy het (omdat God al sy werke van die begin van die wêreld ken—Handelinge 15:18) die mens se liggaam sekerlik daarmee in gedagte ontwerp. Gevolglik het Hy dit, anders as die diere, met ’n regop stand ontwerp, met ’n gesig wat opwaarts kyk, in staat tot gesigsuitdrukkings wat met emosionele gevoelens ooreenstem, en met ’n brein en ’n tong wat tot duidelike, simboliese spraak in staat is.’9,10

Daarby was die menslike liggaam die vorm waarin God die Seun vlees sou word, of ‘die gestalte van ’n mens sou aanneem’ (Filippense 2:7, par.). God het die mens dus gemaak in die liggaamlike vorm wat Hy self eendag sou aanneem—die vorm waarin Hy Hom bekend wou maak.

2. Dit was ’n verstandelike ooreenkoms

God het aan die mens ’n intellektuele vermoë gegee wat veel beter as dié van enige dier was en is. Die mens het dus ’n verstand gekry wat in staat is om God se kommunikasie met hom te hoor en te begryp, emosies wat in liefde en toewyding op God kan reageer, en ’n wil wat hom in staat stel om te kies of hy God sal gehoorsaam of nie. Die mens is dus toegerus nie net om ‘God vir ewig lief te hê en Hom te gehoorsaam’ nie, maar ook om God se werk op aarde te doen—om sy ryksbestuurder te wees en die skepping in samewerking met sy Skepper te regeer.

Dít blyk uit God se bevel aan Adam en Eva11 dat hulle oor die aarde en sy diere moes heers (Genesis 1:26,28), uit Adam se taak om die tuin te bewerk (Genesis 2:15), en uit die stelling dat Adam aan sekere van die diere op aarde name gegee het (Genesis 2:19–20).12

Die mens se intellektuele gawes blyk verder uit sy vermoë om goed te ontwerp en hulle dan te maak, om skoonheid te waardeer, om wonderlike musiek te komponeer, om portrette te skilder, om te skryf, om tot by groot syfers te tel en wiskunde te doen, om energie tot eie voordeel te beheer en te gebruik (byvoorbeeld vuur, elektrisiteit en kernkrag), om te organiseer, om te redeneer, om besluite te neem, om van homself bewus te wees, om vir homself te lag, en om abstrak te kan dink. Al dié gedrag is—anders as die gedrag van diere—nie instinktief nie en toon daarom onbeperkte verskeidenheid.

3. Dit was ’n morele ooreenkoms

Tussen al God se skepsels het net die mens ’n gees of God-bewustheid; dit wil sê, die vermoë om God te ken en deur gebed, lof en aanbidding geestelik gemeenskap met Hom te hê. Sedert die sondeval (Genesis hoofstuk 3) het die mens ’n ingebore morele bewustheid van goed en sleg, of gewete, wat hy in sy gees waarneem.13

Die mens is nie net negatief onskuldig (dit wil sê, sonder sonde) gemaak nie, maar ook positief heilig, ander sou Adam nie gemeenskap met God kon hê nie—wat die kwaad nie kan aansien nie (Habakuk 1:13). Dit word verder in Genesis 1:31 bevestig toe God bevestig het dat alles wat Hy gemaak het (ook die mens), ‘baie goed’ was—wat nie waar sou gewees het as die mens moraal onvolmaak was nie.

4. Dit was ’n sosiale ooreenkoms14

God se sosiale aard en wesenlike liefde blyk uit die leerstelling van die Drie-eenheid. God—wat liefde is—het die mens met ’n sosiale aard en ’n behoefte aan liefde gemaak. Die stelling in Genesis 3:8—‘hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie’—dui daarop dat Adam en Eva—dalk daagliks—kameraadskap en gemeenskap met God geniet het.

God het ook aan die mens op ’n baie spesiale en intieme manier kameraadskap en liefde verskaf. Voordat hy Eva geskep het, het Hy gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas’ (Genesis 2:18). Hy het Eva toe gemaak uit ’n been wat uit Adam gehaal is (Genesis 2:21–24)—’n feit wat Jesus in sy debat met die Fariseërs gebruik het om die heiligheid van die huwelik en die intimiteit van liefde binne die huweliksverhouding te verdedig (Matteus 19:4–6; Markus 10:6–8).15

Gevolgtrekking

Toe God die plante en die diere geskep het, het Hy hulle almal ‘volgens hulle soorte’ gemaak (dié frase kom nege keer in Genesis 1:11–25 voor). Toe Hy Adam geskep het, het Hy hom volgens die God-soort gemaak—in die beeld en gelykenis van God (vergelyk Handelinge 17:28). Ná die sondeval word steeds gesê dat die mens in God se beeld (Genesis 9:6; 1 Korintiërs 11:7) en gelykenis (Jakobus 3:9) is. Dié beeld is egter deur die mens se rebellie ten tyde van die sondeval besoedel, en alle aspekte van God se beeld is bevlek. Tog was dié aspekte in die Here Jesus Christus volmaak—wat sowel in sy lewe op aarde as in die hemel ‘die Beeld van die onsienlike God’ (Kolossense 1:15) en ‘die afdruksel van sy wese’ (Hebreërs 1:3) is.

Die apostel Paulus sê dat ons deur die evangelie na die beeld van God verander of vernuwe word, en dat dié beeld dan ‘in ware geregtigheid en heiligheid’ (Kolossense 3:10; Efesiërs 4:24) is. Dis nie iets wat die natuurlike mens deur sy eie pogings kan bewerkstellig nie, maar is die gevolg daarvan dat ons Christus in geloof en bekering ‘aanvaar’ (Johannes 1:12; Galasiërs 2:20). Dit word deur die Heilige Gees gedoen (Titus 3:5; Romeine 8:28–29) wat in God se kinders kom woon (1 Korintiërs 3:16; 6:19). ‘Die Here … is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom’ (2 Petrus 3:9).

Verwante artikels

Voetnote en verwysings

  1. Nog twee geleenthede waar dié meervoud-of raadplegende vorm van goddelike spraak gebruik word, kom in Genesis 3:22 en 11:7 voor. Gaan terug na die teks.
  2. John Calvin, Genesis, vertaal en geredigeer deur John King, The Banner of Truth Trust, Edinburg, 1965, bl. 91. Gaan terug na die teks.
  3. Jesaja 40:13; Romeine 11:34. Gaan terug na die teks.
  4. Johannes 16:13 toon dat die Heilige Gees praat. Gaan terug na die teks.
  5. Die meervoudsvorm van ‘God’ (Elohim) en die meervoudsvoorname ‘ons’ en ‘ons’ (besitlike vorm) wat in Genesis 1:26 gebruik word, dui op die leerstelling van die Drie-eenheid. Vergelyk Genesis 1:1–3 en Matteus 28:19. Gaan terug na die teks.
  6. Lees ook Johannes 1:3: ‘Alle dinge het deur Hom [dit is die Woord of Logos = Jesus Christus] ontstaan; en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie’, en Johannes 17:24, waar Jesus van God die Vader se liefde vir die Seun ‘voor die grondlegging van die wêreld’ praat. Gaan terug na die teks.
  7. Sommige kommentators onderskei tussen die terme ‘beeld’ en ‘gelykenis’ van God. Ander hanteer hulle as sinonieme wat bedoel is om die idee van ooreenkoms te beklemtoon. Dit lyk of Moses laasgenoemde doen: Daarom gebruik hy ‘gelykenis’ in Genesis 1:26 as ’n verduideliking van ‘beeld’ (daar is in die Hebreeus nie ’n ‘en’ tussen die frases nie); in Genesis 1:27 gebruik hy ‘beeld’ twee keer sonder om ‘gelykenis’ te noem; hy gebruik (slegs) ‘gelykenis’ in Genesis 5:1, en (slegs) ‘beeld’ in Genesis 9:6. Gaan terug na die teks.
  8. Ons begryp dat dit die Here Jesus Christus was, want ‘niemand het ooit God [die Vader] gesien nie’ (Johannes 1:18). Gaan terug na die teks.
  9. Henry Morris, The Genesis Record, Master Books, El Cajon, Kalifornië, 1976, bl. 74. Gaan terug na die teks.
  10. Diere kommunikeer op verskeie maniere, waaronder klanke, gesigsuitdrukking, houding en reuke, maar geeneen is in staat om grammatiese frases of sinne te sê nie. Gaan terug na die teks.
  11. Let daarop dat Genesis 1:27 vir ons sê dat ook Eva in die beeld van God gemaak is, en die bevel in Genesis 1:26 en 28 is in die meervoudsvorm ‘hulle’ (dit wil sê, Adam en Eva, en gevolglik al hul afstammelinge—dus die mensdom). Gaan terug na die teks.
  12. Die mens het dus heerskappy oor alle goed gekry—diere, minerale en plante—nie vir persoonlike misbruik of tirannie nie, maar as God se verteenwoordiger. Dis ’n gedelegeerde posisie van diens en rentmeesterskap, en dit impliseer aanspreeklikheid. Die mens is teenoor God verantwoordelik in alles wat hy doen (Openbaring 20:12). Gaan terug na die teks.
  13. Die mens is ’n drievoudige wese of drie-eenheid van liggaam, siel en gees. Plante het ’n liggaam en onbewustelike lewe; diere het ’n liggaam en bewustelike lewe (Hebreeus: nephesh, wat gewoonlik as ‘siel’ vertaal word); die mens het ’n liggaam, bewustelike lewe (of siel, wat in die mens uit die intellek of verstand, die emosies of gevoelens en die mag van keuse of wil bestaan) en gees (God-bewustheid). Die mens is dus in al drie opsigte die onsterflike en unieke beeld van God. Sommige kommentators vergelyk dié drie-eenheid van die mens met die Drie-eenheid binne die Godheid van Vader, Seun en Heilige Gees. Gaan terug na die teks.
  14. Aangepas uit Henry C. Thiessen, Lectures in Systematic Theology, Eerdmans, Michigan, 1977, bl. 156–157. Gaan terug na die teks.
  15. Die skepping van Eva uit Adam is geheel en al ’n struikelblok vir teïsties evolusionêre interpretasies. Sommige sê ‘stof tot Adam’ simboliseer evolusie uit laer vorme, maar wat van ‘rib tot Eva’? Gaan terug na die teks.

They say time is money. Well, this site provides over 30 years of information. That’s a lot of money and time. Would you support our efforts to keep this information coming for 30 more years? Support this site

Copied to clipboard
8844
Product added to cart.
Click store to checkout.
In your shopping cart

Remove All Products in Cart
Go to store and Checkout
Go to store
Total price does not include shipping costs. Prices subject to change in accordance with your country’s store.