Also Available in:

Goed-gewapende watervlooie en radyse

 Verrassende nuwe bevindinge toon dat aangeleerde veranderinge die volgende generasie ‘bewapen’. Maar dit is van geen hulp vir evolusie nie.

deur
Vertaal deur Nicolene Filmalter

Toe August Weisman in die vorige eeu die sterte van muise afgesny het, het hy gepoog om ‘n oortuiging wat gehou is deur evolusioniste soos Lamarck (en Darwin, wie hy andersins bewonder het), te weerlê. Dit is, dat veranderinge wat tydens ‘n skepsel se leeftyd aangeleer word, soos die strekking van die nek in ‘n poging om voedsel in hoër bome te bereik, oorgeërf kan word.

Geeneen van die muis-nageslagte wat deur Weisman ondersoek is het enige verkorting van hul sterte getoon nie. So het een van die ‘sentrale dogmas’ van moderne biologie ontstaan, dat veranderinge wat deur die omgewing veroorsaak word, nie oorgeërf kan word nie.1 Onlangse bevindinge blyk egter die teendeel aan te dui.

Wilde radyse reageer normaalweg op die aanvalle van ruspes deur ‘n aansienlike vermeerdering van beide die aantal beskermende stekels in hul blare, asook die produksie van natuurlike gifstowwe wat die plant minder smaaklik maak.2,3 ‘n Noukeurig beheerde studie het getoon dat ten minste ‘n deel van hierdie weerstand teen aanvalle, oorgedra word aan die volgende generasie.

Op soortgelyke wyse reageer watervlooie (Daphnia) op sekere chemikalieë, naamlik kairomone, wat deur hulle natuurlike vyande vrygestel word wanneer hulle in die omgewing is, deur ‘beskermende helmagtige strukture’ te groei. ‘n Verrassende bevinding was dat die nageslag van moeders wat blootgestel was aan kairomone, altyd groter helms gehad het as dié ‘wie se moeders nog nooit blootgestel was aan die gevaarsein nie.’ So ook hulle nageslag!2,3

Dit maak sin dat die omgewing nie oorerflikheid behoort te affekteer nie, aangesien oorerwing plaasvind deur gekodeerde instruksies wat die DNA taalkonvensie gebruik. Dit kom vergesog voor om die moontlikheid te oorweeg dat die afsny van ‘n stert, of die strekking van ‘n nek, spesifieke genetiese instruksies kan ‘herskryf’. In die algemeen geld hierdie ‘dogma’ van inligting wat net op een manier (van die DNA na die res van die organisme) vloei, dus.

Verleen hierdie nuwe bevindinge steun aan die 'Lamarckse erfenis' en stel hulle ‘n nuwe meganisme vir evolusie voor? Nee, en nee.

Die watervlooie reageer deur middel van ‘n ingeboude meganisme waar groter helms binne hul leeftyd gegroei kan word. Evolusioniste sal sê dat dit op een of ander manier deur toevallige mutasies en natuurlike seleksie ontwikkel het. Skeppingsleerders sal sê dat dit ontwerp was. Albei stem saam dat dit help met die oorlewing van die watervlooi.

Dit kan wees weens die ‘aanskakel’ van gene wat andersins dormant is. (Ander onlangse ontdekkings toon dat afhangend van watter ouer die gene geërf is, gene aan- en afgeskakel kan word).4,5 As dit so is, mag die bevindings wat vroeër bespreek is, op slegs ‘n eenvoudige uitbreiding van hierdie meganisme dui – die aangeskakelde gene bly aangeskakel in die nageslag. Of anders is daar ‘n sekondêre meganisme wat gene wat aan die nageslag oorgedra word, aanskakel. In ieder geval, dit is duidelik nie ‘n ewekansige reaksie nie, maar ‘n geprogrammeerde meganisme – een wat die nageslag help om te oorleef en die lyn voort te plant.

‘n Belangrike punt van hierdie nuwe ontdekking is dat selfs in die ouergenerasie, die omgewing nie die reaksie – bv. die groter helms – teweeggebring, soveel as wat dit daartoe aanleiding gegee het nie. Met ander woorde, dit is nie ‘n verandering wat veroorsaak word deur die omgewing nie, maar ‘n vooraf-geprogammeerde reaksie, aangedryf daardeur. Daar is dus geen bewyse dat enige nuwe inligting gegenereer word nie – dit is reeds alles daar.

Die sentrale probleem vir alle evolusionistiese teorieë is om te verduidelik hoe al die nuwe inligting ontstaan het om mikroörganismes, oor miljarde jare toenemend tot mossies, molekulêre bioloë en mangnolia bome te transformeer.6 Hierdie bevinding verleen dus as sulks geen steun aan die Lamarckse of die neo-Darwinistiese evolusionêre geloof nie.

Wat dit wel voorstel, is dat daar nog ‘n vlak van kompleksiteit in lewende organismes bestaan wat met selfs meer vindingrykheid ontwerp is as wat voorheen gedink is. Dit maak dit net nog moeiliker vir diegene wat daarop aandring dat lewende organsimes nie deur ‘n Almagtige Skepper ontwerp is nie, maar deur natuurlike prosesse ontstaan.

Verwysings

  1. Deur te begin by Bybelse vooronderstellings, sou dit natuurlik voor die hand liggend gemaak het. Vergelyk besnydenis. Terug na teks. 
  2. New Scientist, 163(2202):12, 4 September 1999. Terug na teks. 
  3. Agrawal, A.A., Laforsch, C., Tollrian, R., Transgenerational induction of defences in animals and plants, Nature 401(6748):60-63, 2 September 1999. Haukioja, E., Bite the mother, fight the daughter, Nature 401(6748):22-23, 2 September 1999. Terug na teks. 
  4. Jerlström, P., Genomic imprinting, TJ 13(2):6, 1999. Terug na teks. 
  5. Cohen, P., The great divide, New Scientist 160(2164):16, 12 December 1988. Terug na teks. 
  6. Natural selection does not add information, it culls it. Mutations can occasionally give a survival benefit, but all examples to date, e.g. wingless beetles on a windswept island, have been losses of information. See the distinguished Israeli biophysicist Lee Spetner’s book Not by Chance! The Judaica Press Inc., New York, USA, 1996 (see review of Not By Chance!). Terug na teks.